Die Ontstaansgeskiedenis en variëteite van Afrikaans


Die teorieë rondom die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans kan in twee breë kategorieë ingedeel word: die een groep teoretici voer aan dat Afrikaans 'n natuurlike vereenvoudiging van sewentiende eeuse Nederlands is; die ander voer aan dat dit 'n gekreoliseerde taalvorm is wat deur intertalige kontak ontwikkel het.

Voorstanders van die benadering dat Afrikaans 'n vereenvoudigde Nederlands is, beroep hulle op die feit dat 95% van die Afrikaanse woordeskat aan Nederlands ontleen is, dat daar talle ooreenkomste met sekere Nederlandse dialekte bestaan en dat Afrikaans nouer verbonde is met Standaardnederlands as sekere (ander) Nederlandse dialekte. Dit is veral die Europese herkoms van Afrikaans waarop voorstanders van hierdie denkwyse konsentreer.

Die posisionering van Afrikaans as Europese taal het ook gedurende die sentrum-periferale-verhouding van die Genootskap van Regte Afrikaners (G.R.A.) en die Eerste Afrikaanse Taalbeweging die meeste steun geniet. Moeite is gedoen om Afrikaans se status van 'n "keukentaal" te verhoog, die uitsluiting van "gekleurde" Afrikaanssprekendes (slawe, en die outochtone bevolking) en die gebruik van Afrikaans in hoër funksies, soos die politiek en as tersiëre onderrigmedium, was twee wyses waarop die status verhoog is. Die volgende uittreksel uit 'n gedig van J.L Cachet, 'n aktivis van die Eerste Taalbeweging, wys op die beklemtoning van die Europese band en die ontkenning van die bestaan van, en miskenning van die invloed van gekleurde Afrikaanssprekendes:

Die Afrikaanse taal

Ek is 'n arme Boerenôi, [1]
   By vele min geag;
Maar tog is ek van edel bloed,
   En van 'n hoog geslag.
Uit Holland het myn pa gekom
   Na sonnig Afrika;
Uit Frankryk waar die druiftos swel,
   Myn liewe, mooie ma.

Hul skel my uit vir Hotnotsmeid, [2]
   Maar ek gee daar nie om;
Want aan myn lippies kan jy sien
   Van wat geslag ek kom.




Afrikaans groei uit die kontak tussen Europese nedersetters en die outochtone Koi en San-bevolkings. Afbeelding van ruilhandel aan die Kaap.


Die ander teoretiese beskouing het die intertaalteorie as uitgangspunt. Afrikaans is die produk van wisselwerking van sprekers van verskillende taalgroepe, soos ondermeer die Europese koloniste, die slawe wat ook onderling verskillende tale gebruik het en die outochtone Koi-en Sanbevolkings.

Afrikaans word dus as 'n gekreoliseerde taalvorm beskou wat onstaan het uit die pogings van sprekers van ander tale om nie-standaardvorme van Nederlands - die dialekte gepraat deur sprekers van verskillende sosio-ekonomiese groepe soos seelui en amptenary én uit verskillende dele van Nederland afkomstig - te bemeester. Afrikaans het ook die rol van lingua franca aan die Kaap vervul vanweë die taalverskille tussen die Nederlanders, Franse en Duitsers, die slawe en die Koi. Die slawegemeenskap was nie homogeen van herkoms nie en het ook onderling Afrikaans as omgangstaal gebruik.

Afrikaans toon duidelike ooreenkomste met ander gekreoliseerde taalvorme en ook die Afrikaanse woordeskat ondersteun die intertaalteorie. Die dubbele ontkenningsvorm, die afwesigheid van vervoeging en verbuiging en die gelykskakeling van voornaamwoorde in die onderwerp-en voorwerpsposisies ("wij" word vervang deur "ons" in die onderwerpsposisie) is ook te sien by die taal wat in die Nederlandse Antillle gepraat is. Op leksikale vlak het ander tale, soos Koi en Maleis, tot die woordeskat van Afrikaans bygedra. Die rol van subaltern-groepe, soos die slawegemeenskap word deur die tale-in-kontaksiening erken.

Die drie historiese variëteite van Afrikaans - Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans - moet ook in ag geneem word by ‘n genuanseerde beskouing van die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans.

Oranjerivierafrikaans toon groot beïnvloeding van Koi op leksikale en sintaktiese vlakke. Sprekers het vanaf 1713 hulle al dieper in die Binneland gevestig na die Pokke-epidemie aan die Kaap. Sprekers is van Koi-herkoms.

Kaapse Afrikaans is beïnvloed deur Maleis en dit word veral deur "gekleurde" sprekers gepraat. Kliek hier om 'n gedig van Peter Snyders wat in Kaapse Afrikaans geskryf is, te lees.

Oosgrensafrikaans is die variëteit wat as standaardtaal funksioneer en deur die trekkers en boere ook in die Suid-Afrikaanse binneland versprei is.

Indien u meer wil weet van die Intertaalteoretiese beskouing oor die herkoms van Afrikaans kan u die volgende bron raadpleeg: Davids, Achmat 1996. ‘Laying the lie of the ‘Boer’ Language: an alternative view of the Genesis of Afrikaans’ in Kriger, R. en Kriger E. (eds.) Afrikaans Literature - Recollection, Redefinition, Restitution Amsterdam: Rodopi pp13-58



Eindnotas

[1] Die woord "Boer" is sinoniem vir "Afrikaner", synde (blanke) nakomeling van die Nederlandse, Franse en Duitse setlaars. Die woord het ook 'n sterk negatiewe konnotatiewe betekenis Die woord "Afrikaanssprekendes" verwys na blanke, swart en bruin sprekers van Afrikaans. Die helfde Afrikaansprekendes is swart of bruin.

[2] "Hottentot" is die historiese benaming van die Koi en San, die outochtone Suid-Afrikaanse bevolking. "Hotnot" het 'n pejoratiewe assosiasie en in 'n skelterm.